

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 June 2008
"Wanneer ‘n owerheid ‘n onderdrukkende owerheid word, het die kerk ‘n plig tot verset. In Suid-Afrika is ons in die posisie dat die kerk verset moet begin lei deur ‘n nuwe kultuur van geestelikheid op grondvlak."
So sê ds. Petrus Kriel, voorsitter van ‘n taakspan van die Sinodale Diensraad van die NG Kerk se Noordelike Sinode insake Gereformeerde verset. Die taakspan sal sy verslag in September vanjaar aan die sinode voorlê. Die verslag is egter reeds beskikbaar as ‘n besprekingsdokument op die NG Kerk Noordelike Sinode se webtuiste (www.ngk-ntvl.com).
Die taakspan se opdrag was om ‘n verslag op te stel met die fokus op die praktyk van Gereformeerde verset en om leiding te gee vir die praktyk van Gereformeerde verset. Die verslag moes ook die verhouding tussen kerk en owerheid aan die orde stel en fokus op onregmatige handelinge en gebrekkige en wanfunksionering van die owerheid. Die verslag moet riglyne aan lidmate gee oor die situasie waarin hulle leef en ook die saak van verset in Zimbabwe aanspreek.
Die taakspan het reeds in 2006 met sy werksaamhede begin.
Die verslag sê dit is ‘n gegewe dat owerheidsinstellings, vanaf die sentrale regering tot munisipaliteite, diepgaande wanfunksioneer. Die verval van openbare dienslewering op alle vlakke van die gemeenskap is ‘n gegewe vir bykans alle openbare dienste: elektrisiteitsvoorsiening, polisiëring, gesondheid, vervoer, onderwys, lisensiëring, regspleging, waterverskaffing en omgewingsbewaring. Die taakspan bevind die wanfunksionering gaan nie oor ‘n gebrek aan menslike gewilligheid of hulpbronne nie. Dit gaan oor die feit dat openbare ampte en poste beklee word sonder die effektiewe aanspreeklikheid vir die lewering van openbare dienste. Die owerheidsbeheer van straf vir swak dienslewering en onverantwoordelikheid en die beloning vir goeie dienslewering is besig om in baie gevalle te verskuif na beloning vir dienstigheid aan mag en bestraffing vir mense wat magsmisbruik aanspreek.
Dit plaas alle openbare instellings onder druk en bring dit in gedrang: Persvryheid word ondermyn deur ‘n beoogde media tribunaal en die arrestasie van verslaggewers wat korrupsie onthul; Eiendomsreg word ondermyn deur pogings om alle grondbesit te nasionaliseer, buite die vraag en aanbod van ‘n vryemarkstelsel en deur self die pryse te bepaal. Die Polisie en Intelligensiedienste: Staatsinstellings word gebruik om politieke opposisie te inkrimineer of te kriminaliseer; Die vervolgingsgesag word ondermyn deur presidensiële inmenging in die regsproses.
"Ons ervaar die opbou van ‘n mags-elite wat die staatsmiddele en strukture misbruik vir hul eie belang en nie vir openbare dienslewering nie. Hierdie verskuiwing van dienslewering na magsmisbruik maak dat verset toenemend die laaste uitweg vir landsburgers word," lui die verslag.
Die verslag sê Gereformeerde verset gaan altyd oor ‘n gehoorsaamheid aan God wat meer en groter is as die wette van die owerheid. Volgens die verslag was die verandering van die staat in 1994 ingrypend vir die Christelike kerk. Die nuwe staat is volgens die grondwet nie Christelik nie en in baie opsigte ‘n sekulêre staat. Die owerheid kan en wil homself nie meer aan die geloof en waardes van die Christelike godsdiens verantwoord in sy wetgewing en regering nie. Die veronderstelling waarmee die NG Kerk nog altyd gewerk het, dié van ‘n Christelike owerheid en ‘n Christelike gemeenskap, het verval. Lidmate van die NG Kerk het ‘n minderheidsgroep geword sonder enige wesenlike mag in die owerheid. NG-lidmate is ook op ‘n syspoor gerangeer deur die nuwe owerheid wat homself beywer vir die herstel van regte van die meerderheid, wat as benadeelde gemeenskap gereken word, teenoor NG-lidmate wat as bevoorregtes gereken word. Die NG Kerk sal homself moet herposisioneer as ‘n kerk vir ‘n minderheidsgroep binne ‘n veranderende gemeenskap. Enige vorm van verset sal verreken moet word as die optrede van ‘n minderheidsgroep in ‘n sekulêre gemeenskap. Daarom sal verset hanteer moet word saam met al die lede van die NG-kerkfamilie en ook ander Christelike kerke.
Die verslag stel 14 riglyne vir die praktyk van Gereformeerde verset: Dit is ‘n uitdrukking van die geloof dat Jesus Christus die Here van die wêreld is; Dit is ‘n weiering om te wanhoop ten spyte van die oorheersing, intimidasie, geweld, roof en moord wat deur ‘n owerheid gepleeg word; Dit is altyd ‘n soeke na reg en geregtigheid vir alle mense, uit liefde en nie uit wraak, eiegeregtigheid, magteloosheid of hebsug nie. Dit is nooit ‘n soeke na eie- of groepsbelange nie, maar die soeke na die beswil van die hele gemeenskap; Dit behoort vanuit die geloofsgemeenskap beoefen te word en kan net in gehoorsaamheid aan die Woord van God beoefen word; Dit is ‘n konsekwente uitvloeisel van ‘n geesvervulde lewe, waar kwaad nooit aanvaar word as ‘n normale deel van die gemeenskap nie; Dit moet met volhardende lydsaamheid deurgevoer word en het ten doel dat die owerheid weer aan sy roeping sal beantwoord om sy openbare diens te vervul.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
